Saarkie Rock in Afrikaans!

Starburst Promotions

All- girl rock band Saarkie se nuwe enkelsnit van hul derde album, Reisiger, word gedurende die week van 18 Januarie 2016 landswyd aan radiostasies in Suid-Afrika uitgereik.

Dullstroom, die eerste enkelsnit op dié album is op 20 Oktober 2014 uitgereik en het groot opspraak in die musiek- en mediawereld gemaak.
Daarna is die tweede enkelsnit, Somerjare in Februarie 2015 uitgereik, en is landswyd op radio versprei. Die liedjie se musiekvideo het 'n eksklusiewe debuut op Jukebox kykNET op 7 Maart 2015 gemaak.
Met Reisiger vestig Saarkie hulself stewig in die rock-genre in Suid-Afrika na die sukses van Luister (2009) en hul tweede album, Identiteit, wat in Maart 2011 uitgereik is.

Reisiger bestaan uit 13 liedjies en sluit onder meer Afrikaland, Freefalling, Vroue van Afrika, Reisiger, Chuck Norris, Trust, One Love, Dullstroom, My Jeug, Kamers van My Hart, Ai My Lam en Nader aan My in.
Oor Reisiger, sê die trio: “Ons as Saarkie is baie trots en opgewonde om terug te kan kyk na die harde werk en moeite wat almal ingesit het om van ons derde album, Reisiger, 'n sukses te maak. Dit was 'n ongelooflike ervaring en 'n leerskool wat ons deur diep waters gevat het, maar ook gemotiveer het om hard te werk en dinge op te offer vir wat jy in die lewe wil hê.

“Ons toer gereeld deur die land en sien soms die interessantste dorpies en mense. Wanneer ons nie op die pad was nie, het ons 'liedjieskryf-wegbreke' gehad na plekke soos Botswana en Mosambiek of sommer net 'n lekker kamp langs 'n dam.

“Ons album gaan oor die reise van die lewe asook die reise na die plekke wat soveel stories en herinneringe in ons harte ingekerf het.
“Om 'n suksesvolle album te maak in hierdie kompeterende industrie is baie uitdagend, maar ons het elke dag tree-vir-tree die struikelblokke oorkom en die inspirasie gekry om te skryf oor ons ervarings. Dit is so lekker om ons passie te kan uitleef en dit in ons liedjies met die mense te deel. “Die skryf van die album het baie tyd en moeite gekos en almal wat bygedra het, het met hart en siel aan die album gewerk. Ons is baie dankbaar vir die ongelooflike span wat agter ons staan.”

Die gewilde groep bestaan uit Adèle Fouché (hoofsanger, kitaar en mondfluitjie), Lila Botha (dromme en agtergrondstem) en Lourene Mostert (baskitaar, klawerbord en agtergrondstem).
Voor hul hulle in Pretoria gaan vestig het, is Adele en Lila oorspronklik van Boksburg en is al sedert kleuterskool vriendinne. Hulle was saam op Laerskool Baanbreker en van daar op Dr. EG Jansen in die hoërskool. Nou lê Lourene se wortels in Centurion, maar voor dit het sy in Messina gewoon.

Saarkie pas in elke aspek van die musiek se skryf en uitvoering daarvan hul eiesoortige en kenmerkende styl toe en al drie lede is gegradueerde, professionele musikante.

Sosiale media:
Facebook: http://www.facebook.com/#%21/pages/SAARKIE/321222057747
Twitter: @SaarkieBand
Webblad: www.saarkie.com