Op My Fiets van Paarl tot Parys

Helené Bestbier

Pelgrim

Moet ek bly of moet ek ry? Een van April se soel dae breek aan in Roodeberg Vallei. Vandag is daar nie tyd vir hanna-hanna nie – ek moet wegkom! Dis amper agtuur. Die laatkommers jaag in La Concordia Laan af na KWV Hoofkantoor.

Vandag, ‘n jaar gelede, bo teen Paarlberg, het ek vir Manlief gesê: ‘Ek wil op 'n lang fietsrit gaan in 2016 – om my verjaarsdag vier!’ Ek Google. Dalk ‘n Pelgrimstog? Menigtes loop; ry en bly die Europese El Camino al vir duisende jare! Ek moet gaan kyk. Self sien. Hoe ry 'n 1000-jaaroue paadjie? Hoe slaap ‘n 800-jaaroue herberg?

By Nuwe Eskadelsirkel fiets ek om; oor die Bergrivier en onder die Arboretrumrylaanbome deur. Ek kies kortpad agter die robotpaal verby en springry op die Van Riebeeckweg sypaadjie. Net voor Klein Parys, ‘n Paarlse dorpsplaas, wip ek af. Ek hou asem op; blik vinnig agtertoe en vlie regs uit, oor Jan, na dié destydse plaas van Jean le Roux. Op met die bult. Oef, maar dis steil. Warm. Die son is dynsig, verblindend van voor. My lippe ‘s taai-droog.

Op 4 November 1686 het Jean le Roux, 21, en sy neef, Gabriël, nét twintig, uit Frankryk ontsnap na Delft, Holland. Vroeër, ongeveer 1550, is Protestantse gelowiges al vervolg in Frankryk. Dinge het drasties ernstig geraak toe hul Koning Louis, die Nantes-edik opgehef en hul burgerskap summier ingetrek het. Die neefs het later, saam met honderde, letterlik ‘n pelgrimstog, met die Voorschooten, na die Kaap, aangepak.

By die Langenhovenrobot langs Klein Nederburg Hoërskool wag ek wetsgehoorsaam vir my beurt om te ry. ‘n Lang heuwel rek uit in die aankomende strale. Sweet kriewel teen my ruggraat af. Kindertjies sing by Amstelhof Laer. ‘n Vergane dier vrot verby. ‘God is Liefde’, roep die wit gepakte klippe langs ‘n rommelwerf.

Te perd en wa ry Jean en Gabriël al die pad na die Paarl, na De Goede Hoop en La Concorde (wat beteken Harmonie), plase, wat deur Simon Van Der Stel toegeken is. Albei plase aan die bergkant van die Bergrivier. Gabriël, gaan verruil toe sy plaas, in 1694, vir Salomonsvlei, ánnerkant die Bergrivier! Maar dié bloedbroers, was erg oor mekaar en wou – wéér, soos van ouds, nader aan mekaar boer. Die dat Jean toe ook anderkant – op Klein Parys gaan boer! En soos enige Franse Hugenoot, was hulle bekend vir hul hardwerkendheid om barre land te omskep.

Vanaf die Sonstraalbrug lê Salomons en ander plasies verruklik – duskant die Wildepaardejagrivier, met oranjerige murasies onder ou Eike; vrugteboorde; herfskleurige wingerde en perde op veldjies. Vér vorentoe staan Simonsberg nog vaal van Februarie se brand. ‘n Sandlorrie swenk saam by Lustigaanpad in. Ons slinger trug dorp se kant toe.

Weer by Jan van Riebeeck se weg, moet ek wag vir aankomverkeer. Uiteindelik ‘n kort ‘gap’! Nou! Nou…nou, moet ek net nie neerslaan van haastigheid nie! Hoe dit gebeur het, weet ek nie, maar álbei neefs, het oënskynlik in die Wildepaarderivier verdrink op 8 November 1711. Die een, neef 46 en die ander ene, net 45 jaar oud! ‘n Goedere-trein-lorrie swoesh gevaarlik naby verby! ‘Wat ís tog dan die nut van ‘n Pelgrimstog’, vra ek myself af?

Elizabeth von Arnim sê: “…if I had lived in the Middle Ages [I] would have spent most of my time on the way to Rome. The pilgrims, leaving all their cares at home, the anxieties of their riches or their debts, the wife that worried and the children that disturbed, took only their sins with them, and turning their back on obligations, set out with that sole burden, and perhaps a cheerful heart.” Tikke… tikke… tikke… oor die Bergrivierbrug. My rug brand. Vandag moet daar tog méér redes as sondepakkies; verskrooide siele en pligvlugte, wees vir ‘n pelgrimsrit!

By die huis maak ek my fiets staan. Dan kies ek ‘n Pelgrimsroete. Een in Frankryk. By my agterdeur kyk ek oor my stukkie sk’erf van die ou La Concorde Plaas. Destyds is geglo ‘n pelgrim moet voor sy eie deur begin. Van hier, sal ek op ou Pelgrimsspore terugpelgrim, want: ‘Pilgrims are poets (or writers) who create by taking journeys’, reken Richard Niebuhr.

Oui, et à bientôt!