Familie tradisies. Belangrik of nie?

Hanlie Snyman

Die belangrikheid van familie tradisies moet nie onderskat word nie, dit sorg immers vir die mooiste oomblike saam met die mense vir wie jy die liefste is. In ons eie land is ons skatryk aan 'n verskeidenheid van tradisies. Hulle verskil dalk in sekere aspekte, afangende van jou geloof en agtergrond, maar een ding het ons almal in gemeen – familie. En dit is 'n belangrike deel van ons elkeen se lewe en identiteit.

Groot of klein?

Tradisies, is iets wat my na aan die hart lê. Ek kan lank gesels oor kulturele tradisies en landelike feesdae, maar familie tradisies is net so belangrik. Familie tradisies is dinge wat jy op 'n gereelde basis met mekaar doen. Dit is gedragspatrone, preƫge aktiwiteite wat herhaal, of 'n gereg wat jy op 'n gereelde basis saam maak. Hulle kan groot of klein wees, maar hulle is anders omdat hulle met 'n spesifieke doel in gedagte gedoen word en dit verg tyd en beplanning.

Waarom is familie tradisies so belangrik? Hier volg die 5 belangrikste redes:

1. Hulle skep spesiale oomblikke en warm gevoelens wat jy bly onthou.

2. Om tyd met mekaar deur te bring roep positiewe emosies op. Deur herhaling daarvan kom daar 'n ekstra dimensie by. Hierdie herinneringe bly jou hele lewe lank bestaan en word as die allermooiste gesien.

3. Dit gee 'n sterk gevoel van iewers by hoort. Jy pas erens in, jy is deel van iets.

4. Om deel van 'n familie te wees, is meer as om saam te woon onder een dak, of dieselfde naam of van te deel. Dit gaan veral oor die bande en verhoudings met mekaar. Tradisies versterk hierdie bande.

5. Dit help met die vorming van 'n identiteit. Veral tydens kinders se grootwordjare help dit baie as jy 'êrens hoort'. Tradisie lê die grondslag van wie jy is. Die oomblik wanneer 'n kind steeds meer sy 'eie ek' ontwikkel, is 'n basis van onskatbare waarde. Oomblikke saam bied ruimte vir verdieping. Tydens uitstappies en kwaliteit tyd met mekaar kry jy die kans om as ouer in diepte te praat met jou kinders. Emosionele onderwerpe sal baie makliker op die tafel gesit word tydens die maandelikse speletjies-aand, as wat dit net terloops oor gepraat word.

Gevoel van veiligheid

Wetende dat jy as kind 'n familie het waar jy op terug kan val tydens moeilike tye, bied 'n groot gevoel van veiligheid en geborgenheid. Dit is een van die kragtigste 'instrumente' by die hantering van groepsdruk,

Negatiewe invloede en teistering.

Onthou dat dit nooit te vroeg (jong kinders), maar ook nooit te laat is om tradisies in jou lewe in te bring nie. En moenie bang wees dat dit geforseerd voel nie. Miskien dink jy daaraan terug oor vyf jaar terwyl jy besig is om die kersboom saam met jou kind en kleinkind te versier, of oor een jaar terwyl jy kaasfondue maak vir die jaarlikse Monopoly wedstryd saam met jou nuwe gesin wat jou kinders, en kleinkinders insluit.

Geniet die vakansie en onthou, 'n familie hoef nie perfek te wees nie. Wees geduldig met mekaar, fokus op die positiewe en maak tyd om mekaar te leer ken.

Hanlie Snyman is 'n sielkundige in privaat praktyk in die Paarl. Kontak haar by 076 988 0402 (selfoon) of 021 8633127/8 (kantoor). Vir meer inligting, besoek haar webwerf www.hanliesnyman.co.za