Die gevolge van Trauma

Hanlie Snyman

Hanlie Snyman

“There are wounds that never show on the body that are deeper and more

hurtful than anything that bleeds.” - Laurell K. Hamilton, Mistral's Kiss

 

Post-traumatiese stres versteuring (PTSV) is ’n onderwerp waaroor daar nie altyd baie gepraat word nie, juis as gevolg van die omvang en sensitiwiteit daarvoor, asook beperkte kennis van wat dit werklik is.

Suid-Afrika het ’n hoë telling van traumatiese gebeurtenisse wat kan lei tot post traumatiese stres versteuring (PTSV). In ons land spesifiek word hierdie gebeurtenisse gewoonlik geassosieer met kriminele geweld, seksuele en fisiese geweld, motorongelukke, verkragting, verwaarlosing, die skielike dood van ’n geliefde, ontvoering en aanranding. Maar daar is ook ander traumatiese gebeurtenisse wat kan lei tot post-traumatiese stres versteuring, soos bv. oorlog, natuurrampe en terroristiese aanvalle.

Die term ‘trauma’ het verskillende betekenisse. In ’n mediese sin van die woord, verwys dit na ’n fisiese wond of besering. Binne die professie van geestelike gesondheidssorg, is ons meer betrokke en werksaam met sielkundige trauma. In die kontemporêre sielkundige literatuur, verwys die term trauma na eksterne gebeurtenisse wat oorweldigende druk plaas op mense se bestaande hanteringstyle. Dit lei dan tot ernstige nadele binne verskillende aspekte van ’n mens se geestelike gesondheid en algemene funksionering.

PTSV is die mees in-diepte nagevorsde post-trauma respons by volwassenes en kinders. Die DSM-V (Amercan Psychological Association, 2013) beskryf vyf simptoom-groepe in PTSV:

  1. Blootstelling aan of die bedreiging van moontlike dood, ernstige besering, of seksuele geweld (persoonlik ervaar, getuie daarvan, of gehoor van die gebeurtenis).
  2. Die teenwoordigheid van indringende simptome (drome, terugflitse, ens). By kinders is dit nie altyd waarneembaar nie, maar kan dikwels gesien word in hulle spel en tekeninge.
  3. Vermyding van stimuli wat geassosieer kan word met die traumatiese insident (soos bv. mense, plekke of gesprekke). By kinders dieselfde.
  4. Negatiewe verandering in gedagtes en gemoed, wat geassosieer kan word met die traumatiese insident (bv. negatiewe selfspraak en gedagtes oor ander, moeite om dinge te onthou, afname in belangstellings, ens). Kinders raak dikwels ook sosiaal teruggetrokke, hulle speel minder, en hulle emosies en reaksies is dikwels negatief.
  5. Verandering in gedrag en aktiwiteite (bv. sukkel om te slaap, geïrriteerde gemoed, probleme met konsentrasie, selfdestruktiewe gedrag, ens). By kinders kom ook woedeuitbarstings voor.

Maar mens wonder dan wat die verskil is tussen PTSV en ’n normale respons tot ’n traumatiese gebeurtenis? ’n Traumatiese gebeurtenis is ‘n insident wat so angswekkend is dat dit ’n persoon en sy vermoë om die situasie te hanteer totaal oorweldig. En enige hanteringstyl wat die persoon dalk het, word dan verswak en laat ’n gevoel van magteloosheid en hopeloosheid agter. Hierdie is ’n normale reaksie op ’n abnormale gebeurtenis.

Na ’n traumatiese gebeurtenis is die bogenoemde simptome en gedrag normaal, en dit word ook tot ’n mate verwag dat kinders en volwassenes dit sal ervaar. Maar hierdie simptome neem gewoonlik af binne ’n paar dae of weke. Wanneer ’n PTSV diagnose gemaak word, moet die simptome vir ten minste een maand presenteer en moet dit die persoon noemenswaardige spanning veroorsaak en sy/haar daaglikse funksionering belemmer.

Kinders tussen die ouderdom van 0-2 jaar is geneig om fisiese distres te openbaar, soos slaap- en eetprobleme. Kinders tussen die ouderdom van 3-6 jaar wat trauma ervaar het, presenteer dikwels met die verlies van onlangs aangeleerde ontwikkellingsvaardigehede, soos die vaardigheid om self te eet of aan te trek, skeidingsangs (aanhanklike gedrag, vrees om alleen te slaap, bekommernis dat iets sal gebeur met hulle ouers), of die ontwikkelling van nuwe vrese of die heraktivering van ou vrese, asook psigosomatiese klagtes soos maagpyn en hoofpyn.

Traumatiese stres in laerskoolkinders manifesteer gewoonlik in slaapversteurings en fisiese klagtes, skuldgevoelens en gevoelens van verantwoordelikheid vir die trauma. Dit word gewoonlik waargeneem in die herhaaldelike spel of vertellings van die traumatiese ervaring. Getraumatiseerde kinders uit hierdie ouderdomsgroep is ook meer geneig om hiperaktiwiteit, aandagafleibaarheid en impulsiwiteit te openbaar. Dit kan baie keer ook foutief gediagnoseer word as ADHD of ander gedragsversteurings. Daarom is dit uiters belangrik om die kind se geskiedenis te verstaan ten einde te kan onderskei tussen hierdie versteurings en nie foutiewe diagnoses te maak nie.

Die ontwikkelling van die versteuring is uniek van persoon tot persoon. Meestal ontwikkel PTSV simptome ure of dae na die traumatiese gebeurtenis, maar soms kan dit weke, maande of selfs jare duur vir die simptome om te verskyn. Maar in meeste gevalle begin die simptome binne 6 maande vanaf die trauma plaasgevind het. Die traumatiese gebeurtenis kan eenmalig wees, soos ’n motorongeluk, of dit kan herhaaldelike trauma wees soos seksuele misbruik. Navorsing wys dat trauma wat gebeurtenisse tussen mense insluit, soos ’n kind wat misbruik word deur iemand wat hy/sy ken, is meer geneig om ’n langdurige effek te hê in vergelyking met gebeurtenisse wat eenmalig van aard was.

Intervensies vir PTSV

Alhoewel navorsing oor die sielkundige behandeling van kinders en adolessente met PTSV baie beperk is in vergelyking met navorsing wat gedoen is op volwassenes, het sommige studies (Holford et al., 2001; Davis & Siegal, 2000; Keane et al., 2006, Yule & Canterbury, 1994) gevind dat kognitiewe-gedragsterapeutiese benaderings gekombineer met familie of ouerterapie, ’n gunstige terapievorm is vir positiewe uitkomste. Medikasie is baie behulpsaam om sekondêre simptome te behandel en word aanbeveel om dit te gebruik kort na die begin van die simptome (Keane et al., 2006; Yule & Canterbury, 1994).

Daar is ’n breë konsensus dat die getraumatiseerde individu se probleemareas aangespreek moet word binne terapie en dat die trauma geïntegreer moet word binne die persoon se outobiografiese geheue. Dit is uiters belangrik om so gou as moontlik na ’n traumatiese gebeurtenis hulp te kry. Hou gouer daar intervensie is, hoe beter is die kanse dat PTSV nie sal ontwikkel nie. Vir meer inligting oor hierdie onderwerp kan u my webwerf besoek: www.hanliesnyman.co.za.

Hanlie Snyman is a psychologist in private practice in Paarl. Contact her on 076 988 0402 (mobile phone) or 021 8633127/8 (office). For more information, please visit her website at www.hanliesnyman.co.za.

 

Hanlie Snyman is ‘n sielkundige in privaat praktyk in die Paarl. Kontak haar by 076 988 0402 (selfoon) of 021 8633127/8 (kantoor). Vir meer inligting, besoek haar webwerf www.hanliesnyman.co.za.